THE SOUTH AFRICAN
DEPRESSION AND ANXIETY
GROUP

facebooktwitter

IN THE WORKPLACE

New Research on Depression in the Workplace.

For more information please click here

business

SADAG NEWSLETTER

To subscribe to SADAG's newsletter, click here

JOURNAL

Mental Health Matters Journal for Psychiatrists & GP's

MHM September 207x300

Click here for more info on articles & how to subscribe

SPEAKING BOOKS

suicide book

Literacy is a luxury that many of us take for granted.  We depend on written communication for information, guidance, and access to heath care information That is why SADAG created SPEAKING BOOKS and revolutionized the way information is delivered to low literacy communities. It's exactly what it sounds like.a book that talks to the reader in his or her local  language, delivering critical information in an interactive, and educational way.

The customizable 16-page book, accompanied by local celebrity audio recordings, ensures that vital health and social messages can be seen, heard, read and understood..

We started with books on Teen Suicide prevention , HIV, AIDS and Depression, Understanding Mental Health and have developed over 30 titles, such as TB, Malaria, Polio, Vaccines for over 30 countries.

depression book

 

Salome Delport

Bipolêre depressie word meestal ge­diagnoseer voor die ouderdom van 25 – die stadium dat ’n mens jou lewensmaat ontmoet en langtermynverhoudings aanpak.

Kan dit werk? Of gaan jy jou hart verpletter? Nege uit tien mense met bipolêre depressie skei immers.
Die beste mense om by te gaan kers opsteek, is vanselfsprekend diegene wat self in ’n huwelik is waarin een van die maats bipolêr is.

Ek is self bipolêr

Michelle Ludick se storie het meer draaie as wat ’n sepie in sewe jaar kan inpas. Haar pa was bruin, haar ma wit. Dit in 1965. Liefdesglipsies oor die kleurgrens was toe nog erger as die liefde self. Sy is dus vir aanneming opgegee. Aan ’n bruin egpaar wat “gepas tussenin” was.

Daar is nog kinkels in haar kinderjare: haar aanneemma was 38 en het ná verskeie probleme alle hoop op ’n eie kind laat vaar. Sy was ook nog lank nie daaroor voordat sy Michelle gekry het nie. Ná Michelle het sy kinders begin versamel en nog pleegsorg-boeties en -sussies het gevolg, almal kinders van familielede van haar aanneemouers.

Michelle was volgens wet die enigste eie kind, maar tog was sy die enigste een wat nie bloedfamilie was nie…en die een met die vreemde strepe.

Daar was haar wilde aptyt vir die seksuele wat in haar middel-tienerjare begin wys het. Haar kerkvaste ouers het hard probeer om hul streng waardes aan haar oor te dra. Maar verniet.

Daar was nog ’n kant aan haar wat haar ouers bly uitboul het: sy kon net so maklik in ’n diep, weerlose depressie verval.
Gelukkig het sy as briljante student op skool en universiteit die beurse huis toe gebring wat vir haar studie betaal het. Sy was ’n talentvolle maar onstuimige tiener – en haar ouers kon dit nie verstaan nie.

Maar tieners word mos groot en dan gaan dinge regkom. Of so het almal gehoop.

Op 24 het sy ’n leerling-pastoor ontmoet wat dadelik baie meer as geestelike belangstelling in haar getoon het. Soveel so dat sy op die eerste dag vir hom gesê het hy is “te oud, te vet en te lelik” vir haar. Maar drie weke later is sy met hom getroud.

Teen die tyd dat hul babaseun gebore is, het hy haar in ’n inrigting vir drankverslaafdes laat opneem.

En dit, sê dié aantreklike, mooi versorgde vrou, was die beste ding wat met haar kon gebeur het. Want toe is sy met bipolêre depressie gediagnoseer.

“Ek het van 16 af geweet iets is weird aan my. Ek was anders. Ek het soms dinge gesê en gedoen wat vreemd was. Soos eendag op pad na ’n kerkbyeenkoms. Ek het skielik die bevlieging gekry om om te draai vir seks. Ek het dit gedoen en toe ek klaar was, moes ek vir die vale hol om by my maat te kom voordat ons die trein moes haal. Toe hy vra waar ek was, het ek doodluiters verduidelik wat gebeur het. Net so. Sonder enige insig dat dit onvanpas is.

“Ek kon dae lank sonder slaap regkom. Ek sou byvoorbeeld tot tweeuur snags werk en dan die hond neem om te gaan stap – en woedend wees omdat hy onwillig is. Daarna sou ek terugkom en vir ’n uur of twee aërobiese oefening doen voordat ek regmaak vir klas die oggend.

“Dan was daar die donker dae. Dae dat ek so ’n patetiese bondeltjie was dat my ouers my dokter toe geneem het. Omdat niemand van ons geweet het wat manie is nie, het niemand die dokter van my ‘hiper’ dae vertel nie. Wat hy gesien het, was ’n erg depressiewe mens – ek in my ‘af’ fase. Dus is ek jare der jare vir depressie behandel, wat nie my hipermaniese dae kon beheer nie.

“Ná my baba se geboorte was ek in ’n erg maniese fase en verskeie kere in klinieke en rehabilitasiesentrums. Dit is daar waar ek vir die eerste keer reg gediag­noseer is.

“Wat ’n genade. Wat ’n verligting. Daar was ’n rede vir die chaos in my lewe, vir die snaakse dinge wat ek aangevang het. My huwelik was ’n maniese impuls; die tye waarin ek dae aaneen kon werk en dus akademies kon presteer, was deel van die maniese fase; die vreemde seksualiteit was deel van my hoë dopamienvlakke; die drie selfmoordpogings was deel van die depressiewe fase van bipolêre depressie.”

Michelle se lewe het nie soos ’n handomkeer verander nie. Dokters het jare lank medikasie uitgetoets voordat sy die regte een gevind het wat haar hou waar sy nou is: ’n stabiele berader wat vir ander mense met bipolêre depressie ’n vaste anker is.

Haar verhaal het ook ’n ware sprokiesverhaal einde, prins en al. Mark Ludick is sy naam.

Mark en die plakker

As ’n lektor heeltyds gesekondeer word om aan ’n ander inrigting verder te studeer, behou hy sy kantoor – al kom hy vir maande aaneen nooit daar nie. Hy gaan immers later weer kom klasgee.

Toe Mark op ’n dag sy kantoordeur ná juis so ’n sessie studieverlof oopstoot, het daar iemand agter sy lessenaar gesit. Iemand wat hom kwaai gevra het wie hom die reg gee om in te kom sonder om te klop? En, sien hy dadelik, sy het sy hele kantoor geherrangskik, sy foto’s afgehaal en sy kosbare boeke weggemaak. En sy is baie sexy.

Michelle was om byna dieselfde rede in daardie kantoor as Mark: nuut en voorlopig tydelik by die departement. Vir haar is gesê sy kan enige van die leë kantore betrek. Dié een was sonnig.

Mark het verduidelik hy eet altyd sy middagete in sy kantoor. Sy ook, het Michelle teruggekap. Hy het die skimp geïgnoreer en op een van sy stoele gaan sit. So het dit vir weke aangegaan. Elke middagete het hy ingestap en elke dag het Michelle hom geïgnoreer.

Dit was kort ná Michelle se egskeiding en sy was woedend vir alle mans. Mark se kalmte het haar egter begin fassineer en die stil middagetes het die hoogtepunt van haar dag geword … een waarvoor sy al hoe meer moeite gedoen het om mooi te lyk.

Iets sou die ys tussen die twee hardekoppe moes breek. ’n Mooi herfsdag het dit gedoen.

“Dit was een van daardie Kaapse dae dat jy net buite móét kom, en toe vra ek of ek vir haar die kampus kan gaan wys.”
Pleks van net te sê sy sal graag saamstap, tuimel die storie van haar onlangse bipolêr-diagnose uit. Sy het verduidelik dit is waarom sy nie maklik vriende maak nie en dié wat sy maak, altyd ná ’n tyd verloor.

“Ek was verstom. Hier sit dié mooi, knap, innemende vrou voor my wat alles onder beheer het. Ek het nie veel van die siekte geweet nie en beslis niemand geken wat daaraan ly nie. Maar ek het haar toe al lank genoeg deurgekyk om te weet sy is ’n juweel.

“Ek het begin uitvra en so nooi sy my toe na die ondersteuningsgroep waarheen sy een keer per maand gaan.”
Michelle het min van die vriendskap verwag. “Jy dink jy is bipolêr en daarom is liefde en vriendskap jou nie beskore nie. Jy loop met dié ding in jou kop dat jy dit nie werd is nie. Daar is immers fout met jou; jy het iets wat vir ander onaanvaarbaar moet wees.

“Só het dit vir my gevoel. Niemand in my gesin het ooit probeer verstaan wat bipolêre depressie is nie. Vir hulle is ek die een met wie daar iets skort. Ek was ná my diagnose bitter alleen, met net so min ondersteuning tuis as voor my diag­nose.

“Jy’s bang as jy die eerste keer hoor jy is bipolêr. Jy weet nie wat voorlê nie. Die terapeute is goed vir jou, maar jy is eensaam. Ná al die drama wat jy veroorsaak het, het jy jou familie en vriende langs die pad vervreem.

“Ek verstaan dit en verwyt niemand nie, maar daarom was dit vir my so kosbaar toe ek by die groep opdaag … en daar staan Mark. Hy het spesiaal vir mý gekom. Niemand, nie my pa of ma of ’n vriendin, het nog ooit as my ondersteuner net vir my by die groep opgedaag nie. Hy het my vertroue geheel en al gewen.”

Mark was – en is steeds – haar vertroue werd. Maar dit wás skrikwekkend aan die begin, erken Mark. “Dis dan dat jy besef wat stigma beteken. Jy kyk dadelik met ander oë na die mens. Jy vertrou dinge nie heeltemal nie. Jy dink jy weet nie wat jy aan hom het nie.

“Eintlik is dit net jou onkunde wat jou bang maak. Ek het vinnig geleer vir jou as buitestander is daar niks so erg aan bipolêre depressie nie. Mense met bipolêre depressie is nie gevaarlik nie. Hulle is net mense.

“Jy moet onderskei tussen die mens en die siekte. Michelle is ’n wonderlike mens met ’n siekte, net soos daar ander wonderlike, dierbare mense is met hoë bloeddruk of diabetes.

“Die tweede ding wat ek nou weet, is dat dit een van die behandelbaarste van al die gemoedsiektes is. Iemand met bipolêre depressie hoef nie siek te wees nie. Sodra die siekte onder beheer is, verdwyn die vreemde optrede.

“Ek het ook begin verstaan hoe dié breintoestand mense weerloos kan maak. Dit moet baie moeilik wees om soms buite beheer te voel en sonder jou gewone goeie oordeel te moet funksioneer.

“Te min mense verstaan dié drie basiese dinge. Toe dit bekend word dat Michelle bipolêr is en dat ons wil trou, het mense my tromp-op gevra of ek mal is om met ’n mal vrou te trou. Selfs nog op ons troudag.”

Moeilik of die moeite werd?

“Kyk, ek het al moeilike dae gehad. Dit is erg as jou vrou probeer selfmoord pleeg. Dit skep baie selfverwyt, want jy dink dis jou skuld en jy faal.

“En dan moet ek ’n paar aanpassings maak. Drank is vir Michelle ’n sneller – met ander woorde iets wat haar kan oorstoot in depressie of hipermanie. Ons drink dus nie.”

Michele kan sekere woorde en liedjies nie hanteer nie – soos How Deep is Your Love. Mark kan nie altyd vooraf weet watter ontstellende herinneringe doodgewone woorde by haar oproep nie, sê sy.

“Ek moet ook my tempo kan bepaal – en dikwels moet Mark my akkommodeer. Ons kan dalk ’n uitstappie beplan het, maar as ek voel ’n dip is aan die kom, moet hy my toelaat om kop uit te trek en te gaan slaap.”

En soms moet Mark vir Michelle sê: “Ho nou, vrou. Jy raak nou ’n bietjie hoog.”

“Ek kan die hipermanie sien, sy nie. En dan moet sy my vertrou dat ek haar nie sommer net wil kortknip omdat ek selfsugtig is nie.

“Die jare wat dit geneem het om uit te vind watter medikasie vir Michelle werk, was ook nie altyd maklik nie. Dis nie ’n grap as jou vrou skielik baie gewig optel of so bewe dat die koppie op die piering ratel, of ’n hele jaar van haar lewe vergeet nadat sy vir elektriese skokbehandeling was nie.

“En dit kos ons geld. Ons mediese fonds weier om te betaal vir die een middel wat juis vir haar werk.”

Skielik spring Mark op en verdwyn. Binne minute is hy terug met ’n hele arm vol sagtespeelgoed. “Croc. Bibbity. Pursey. Sir Ween of the Oval Table…” stel hy hulle een vir een voor.

“Die sleutel tot ons geluk is vir ons God se genade en krag en goeie kommunikasie. Ek móét weet waar Michelle staan en sy wíl weet wat ek dink.

“Maar ek is ’n tipiese ingenieur. Ons praat nie oor ons gevoelens nie, want ons weet nie eintlik wat ons voel nie. Ons is mos besig met dinge, nie voele nie. Maar toe ontdek ons ’n manier om te vra sonder om die ander party in ’n hoek te dryf.

“Elkeen van ons poppe het sy eie onderwerp waaroor net hy praat – en so kan ons mekaar nou oor enigiets uitvra.
“Soos ek hier sit, weet ek ek het die beste huwelik moontlik. As ek weer moes kies, was dit Michelle. Elke keer.

“Laat ek jou vertel van die opwindende kant …” Mark se oë blink, maar voor hy verder praat, laat val Michelle skalks:
“Bipolêre vroue het ’n hoë libido.”

Dit is waar – mits hulle op medikasie is wat hulle binne die grense van ’n gesonde libido hou.

Mark lys sy ander gunsteling-redes waarom ’n huwelik met ’n bipolêre maat spesiaal en opwindend kan wees.

“My vrou verveel my nooit nie. Sy is altyd lus om iets nuuts te probeer – van Chinese kos tot die wonderlikste eksotiese bredies wat sy self kook. Sy is so interessant. Sy hou van verskeidenheid en ons huis word voortdurend geherrangskik. Die tafel is altyd anders gedek. Ek kry dikwels die oulikste verrassings in my kospakkies. Sy is heerlik intelligent en het ’n vlymskerp sin vir humor. En sy gee glad nie om as ek in die openbaar liefdevol is nie.

“As jy my vra, kan ek met die grootste eerlikheid sê my huwelik is dieper, opwindender en beter as die meeste ander mense s’n.”

Maat maak ’n plan

Berader Michelle Barnes is met ’n bipolêre maat getroud. “Jay is ’n wonderlike, wonderlike eggenoot. As ons saans voor die TV cuddle, dan weet ek die baie vreugde is die bietjie drama werd. Ons maak só om dit te laat werk:

– Ons het ons eie psigiater. Vergeet van ’n tuisdiagnose. Dis ’n psigiater se werk. En bou ’n goeie verhouding met hom op. Hoe meer jy met jou psigiater gesels oor hoe jy voel, hoe beter kan hy jou help.

– Ons onthou en geniet die positiewe Jay. Soos al die bipolêre mense wat ek ken, is hy baie intelligent, ekspressief, interessant, bedagsaam en spontaan. Ek hou die hele prentjie in gedagte, nie net die bipolêre kant nie.

– Ek ken Jay se tipiese gedragpatrone. Hy ly aan grade van depressie. By baie ander bipolêre mense kom bingeing dikwels voor, maar die algemeenste is drank, dobbel, intense godsdiens­tige belewenis, jaagtogte, koopgiere, seks­avonture, grootskeepse projekte, hoë­risiko-sakeplanne of -beleggings en waaghalsige aktiwiteite.

– Ék bestuur dit. Alle gelukkige verhoudings is verhoudings wat bestuur word. As jy nie jul lewe bestuur nie, gaan dinge op ’n chaos uitloop.

– Ons praat baie oor waar ons staan. Hoe openliker en eerliker ons gesels oor hoe ons mekaar ervaar, hoe groter is ons begrip vir mekaar en vertroue in mekaar.

– Ek kies wanneer ons gesels. Ons gesels wanneer bipolêres gesond is. Terwyl hulle in ’n greep van episodes is, kan hulle nie versoeke inneem nie.

– Ek verwyt hom nooit. Hy kan dit werklik nie help nie. Maar ek bestuur sy gedrag. Dit kan nog kom, maar by ons is vergrype ontoelaatbaar. Jay vertrou my genoeg dat hy my toelaat om hom tot halt te roep as dinge te erg raak.

– Ek is pro-aktief. Ek wag nie tot Jay homself in ’n gemors kry nie. Sodra ’n voorval opkom, praat ek rustig met hom, kry hom op ’n rustige plek waar niks hom verder opjaag nie, en ek sorg dat hy genoeg slaap. Ek beskerm hom dus teen homself. (By ander bipolêre mense, met kooplus as probleem, kan jy jou maat se kredietkaart tydelik by jou hou.)

– Ek ken Jay se snellers. Meestal word ’n voorval voorafgegaan deur tekens. Algemene snellers is opwinding, drank en te min slaap.

– As dinge handuit ruk, hou ek kop. Ek skree, baklei of oorreageer nie. Ek hou my stemtoon doelbewus rustig, sê vir Jay ek sien hy is ontsteld en vra wat ek kan doen om te help.

– Jay het, soos die meeste gediagnoseerde bipolêre mense, uitstekende insig in sy siekte en kan homself met oefening kalmeer. As ek sien ’n bui is aan die opbou, maak ek Jay taktvol bewus daarvan. Net dit is dikwels genoeg dat hy homself tot besinning bring.

Kitsfeite

* Met ’n gemiddelde voorkoms van 2% van die meeste bevolkings is daar in Suid-Afrika tussen 800?000 en ’n miljoen mense met bipolêre depressie.

* Volgens die WGO is bipolêre depressie sesde op die lys van redes vir werksongeskiktheid.

* Onderdiagnose is ’n reuse-probleem. In ontwikkelde gemeenskappe word net een uit elke twee lyers gediagnoseer. Die syfers in armer gemeenskappe is beroerd.

* Bipolêre depressie is van die behandelbaarste gemoedsiektes.

* Ná behandeling en gespreksterapie keer die meeste bipolêre mense hul lewe om van algehele chaos na suksesvolle, produktiewe, goedaangepaste en gelukkige lewens.

*Dit verg meestal lang eksperimentering om die regte medikasie te vind.

Hulp

Telefoniese hulp: SADAG Bipolêre-hulplyn 0800-70-80-90

Inligting: www.bipolar.co.za, met ’n lys landwye ondersteuningsgroepe

e-ondersteuning: www.bipolarsa.ning.com

Afrikaanse ondersteuningsgroep: www.rooiroseluister.wordpress.co.za. Michelle Ludick: 073 140 7078

 

 

Our Sponsors

Our Partners